What is die Grootste Sonde?

Baie mense het al probeer om sondes van groot na klein te rangskik en om die “dodelike sondes” van die ander te onderskei. Ek glo dat ons sal kan stry tot die perde horings kry oor welke sonde nou eintlik groter is as die ander. Dit bly egter ‘n feit dat alle sonde dodelik is en dat almal dieselfde afsku by God verwek. Selfs die “kleinste” van die sondes is genoeg om ons toegang tot die aangesig van God vir ewig te verhoed. Dit is vir God ewe moeilik om die grootste sonde sowel as die kleinste te vergewe.

Maar daar is een sonde wat daarvoor verantwoordelik is dat meer mense hel toe gaan, en dat meer Christene God se seëninge misloop, as waarskynlik al die ander sondes tesame. Terselfdertyd is dit dié een sonde waaraan elke individu, gered of ongered, skuldig is. Daardie mense wat dink dat hulle nie deur hierdie sonde geaffekteer word nie, of dat hulle dit onder beheer het, is die meeste skuldig.

Hierdie sonde word die maklikste van al die sondes as iets goed voorgehou, en selfs in sy mees blatante vorm is dit steeds aanvaarbaar. Dit was die eerste sonde wat ooit gepleeg is, en dit sal waarskynlik ook die laaste een wees voor al die skuldiges in die vuurpoel gewerp word (Op 20:15). Dit is die sonde van hoogmoed. Hoogmoed, wat ons in die spreektaal ook as “trots” ken, is die een sonde wat God die meeste haat. Lucifer is uit die hemel verban toe hy net eenkeer daaraan uiting gegee het. Hoogmoed is dodelik omdat dit ‘n virus is wat ons hele wese deurtrek en al ons sinne, vermoëns en selfs ons verstand doodmaak.

Hoogmoed verblind ons. Dit voorkom dat ons ons eie sondes raaksien. O ja, ons kan wel die misstappe van al die mense rondom ons sien, maar die oomblik wat ons na ons eie lewens kyk, dan roem ons daarop dat ons sulke wonderlike foutlose mense is. Salomo het alles van hoogmoed geweet en dit was hy wat gesê het: “In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg” (Spr 16:2). Ek het eenkeer met ‘n man gepraat wat ‘n verskriklike sondige lewe gelei het. Hy kon doodeenvoudig net nie insien hoe erg hy gesondig het nie. Gedurende die verloop van die gesprek het hy hierdie vers aangehaal en dit op my van toepassing gemaak. Selfs in die aanhaal daarvan kon hy nie insien dat die feit dat die vers in sy gedagtes opgekom het, God was wat tot hom gespreek het nie.

Dit is onmoontlik om daardie mense te help wat blind is vir hulle eie sonde, behoeftes en blindheid. Voordat hulle nie hulleself sien soos wat God en ander hulle sien nie, is daar geen hoop vir hulle nie. Die werklike probleem is egter die hoogmoed wat hulle verblind. Tensy God hulle op hulle knieë bring, gaan hulle nie sien nie, en as hulle nie sien nie gaan hulle geen behoefte hê aan die Bloed wat hulle kan reinig nie.

Hoogmoed maak ons doof. Hulle wat self-voorsienend is en vol van eie waarde, kan nie God se Woord hoor nie. Selfs as ‘n preek aan hulle persoonlik gerig word en hulle by die naam genoem word, sal hulle steeds nie in staat wees om te hoor wat God vir hulle wil sê nie. Vir die hoogmoediges is elke woord wat in God se Woord staan, of elke woord wat van die kansel gepreek word, vir iemand anders bedoel. Soos wat ons lees en luister, pas ons die Woord op almal rondom ons toe, behalwe op onsself. Iemand het my eenkeer gevra vir wie ek ‘n artikel geskryf het. My antwoord het wreed voorgekom en die persoon wat die vraag gestel het was geskok toe ek geantwoord het: “Ek het dit vir jou geskryf.” Selfs terwyl jy nou besig is om hierdie artikel te lees, het jy nie reeds aan iemand anders gedink wat dit nodig het nie? Jy is dan self skuldig aan hoogmoed en het reeds doof geword! Die enigste toepaslike reaksie op enige woord wat ons hoor of lees, is: “Ja Here, dit is vir my bedoel.”

Hoogmoed maak ons kruppel sodat ons nie van rigting kan verander nie, selfs al weet ons dat ons op die verkeerde pad is. Hoogmoed verlam ons sodat ons nie in staat is om te berou te toon nie, selfs al weet ons dat ons dit moet doen. Vir my as herder is daar niks meer frustrerend as wanneer ek moet toekyk hoe iemand, wat nodig het om te verander, nie daartoe in staat is nie omdat ‘n verandering van rigting ‘n erkenning van skuld sou wees en hoogmoed daardie persoon nie toelaat om te erken dat hy verkeerd was nie. Hulle is letterlik verlam – in hulle hart en verstand weet hulle wat hulle nodig het om te doen, maar die res van hulle wese wil net nie saamwerk nie. Dis hartseer.

Hoogmoed maak ons stom sodat ons nie kan praat nie. Ja, ons kan nog miljoene woorde kwytraak, veral oor ons eie prestasies en ander mense se sondes. Maar daar is drie woorde wat die hoogmoedige onmoontlik vind om oor sy lippe te kry, en hulle is: “Ek is jammer.” Of ons nou nodig het om die woorde teenoor God te uiter of teenoor ander mense, dit is onmoontlik om dit te sê. Die groot verskil tussen Saul en Dawid was dat Dawid nie ‘n probleem gehad het om te erken en te sê “Ek het gesondig” nie. Aan die ander kant moes ‘n span osse die woorde van Saul se lippe trek en selfs toe hy dit gesê het, was dit sonder enige betekenis.

Hoogmoed verlam ons hande en arms sodat ons nie na ander kan uitreik vir hulp of om aan hulle hulp aan te bied nie. Ons sal eerder sterf as om te erken dat ons ander mense, hulle gebede of hulle advies nodig het. Weereens sit ek baie keer magteloos by en kyk hoe mense hulle lewens, huwelike en verhoudings vernietig, bloot omdat hulle nie na ander vir hulp wil uitreik nie. Indien iemand sy hulp sou aanbied, voel hulle in die gesig gevat want dit beteken dat hulle wonderlike vermoë om die situasie te hanteer, in twyfel getrek word. Die hoogmoedige weier nie net om vir hulp uit te reik nie, hulle is ook te trots om hulp aan ander in nood aan te bied. Hulle kan doodeenvoudig nie verstaan hoekom ander mense nie, soos hulle, beheer oor hulle lewens kan kry nie.

Hoogmoed verlam ons immuunsisteem en ons is derhalwe vatbaar vir elke ander tipe van sonde wat die rondte doen. Ons trots en arrogansie lei ons om die bos. Ons dink dat ons nie kan val nie en dat ons elke sonde en verleiding wat oor ons pad mag kom, sal kan hanteer. Die hoogmoedige het geen beskerming teen sonde nie en hoogmoed lei altyd tot ander sonde.

Hoogmoed is ‘n geestelike siekte wat elke greintjie van ons wese deurdrenk en elke teken van lewe in ons vernietig. Dit maak van ons geestelike koolkoppe met geen gevoel, lewe of kontak met God of ander mense nie. Die ergste van hierdie siekte is dat daar geen menslike geneesmiddel is nie. Ander Christene, geestelike leiers en familielede kan niks doen om mense wat met hierdie siekte besmet is, te help nie. Niks wat mense sê of doen kan deurdring tot hulle wat vasgevang is onder die betowering nie. Net God en die individu self kan die genesingsproses begin. Al wat ons kan doen is om vir hulle te bid.

Maar toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy uit die koningskap afgesit en het hy sy roem verloor” (Dan 5:20).